Begrotingsrede deur Sakkie Jenner, Wes-Kaapse Minister van Kultuursake, Sport en Ontspanning, Wes-Kaapse Provinsiale Wetgewer
Maatskaplike samehorigheid" - om mense saam te snoer"
Agbare Premier
Agbare Speaker
Leier van die Onafhanklike Demokrate
Diplomatieke korps
Agbare Tradisionele Leiers
Alle protokol nagekom
Die werk van die Departement Kultuursake en Sport word bestuur en ingelig kragtens artikels 4 en 5 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, wat duidelik die samelopende wetgewing erken in verband met kultuursake, taalbeleid en die reguleer van amptelike tale en met ons provinsiale bevoegdheid wat betref argiewe, biblioteke, museums, provinsiale kultuursake, provinsiale ontsapnning en provinsiale sport.
In hierdie verband is ons van mening dat hierdie Departement 'n belangrike rol speel by die skep van maatskaplike samehorigheid tussen gemeenskappe van verskillende agtergronde. Ons glo dat deur die smee van lewensvatbare kulturele en sport-aktiwiteit dwarsdeur hierdie provinsie, ons 'n aansporing skep waarmee daardie kwessies onder die loep kan kom wat ons gemeenskappe daagliks teister. Hierdie kwessies sluit in misdaad, dwelmmisbruik, bende-betrokkenheid, kindermishandeling en dies meer. Ons pogings gaan daarop gerig wees om toe te sien dat ons 'n maatskaplik samehorige, kreatiewe en aktiewe Wes-Kaap tot stand bring.
Dit is binne hierdie konteks dat die Departement se visie van 'n maatskaplik samehorige, kreatiewe en aktiewe Wes-Kaap gesetel is. Hoewel die besnoeiing van ons begroting daartoe aanleiding gegee het dat ons sommige van ons teikens laer op die ranglys moes stel, is dit belangrik om daarop te let dat geen vorm van dienslewering stopgesit gaan word nie. Ons sal daarmee voortgaan om die visier te plaas op dienslewering aan die mense van die Wes-Kaap, onder leiding van die Provinsiale Strategiese Plan.
Ons Strategiese Doelstelling word deur onder meer die volgende gerig:
Die finaliseer van nuwe kultuur-beleid en -strategie, terwyl daar van gemeenskapskultuurforums gebruik gemaak word om begrip van en eerbied vir kulturele diversiteit uit te bou
Begrip vir die rol van museums en biblioteke by die skep van maatskaplike samehorigheid
Die identifiseer, voorberei en koester van talent
Die integreer van sport- en kultuur-programme
Die ontwikkel van vennootskappe met sport- en kultuurstrukture in die burgerlike samelewing
Die ontwikkel van vaardighede binne die sport- en kultuur-omgewing.
Die kern van ons plan is daarop gerig om mense deur middel van sport en kultuur te verenig sodat hulle die gemeenskaplike belange wat ons as 'n nasie saamvoeg, ten volle kan waardeer. Die Departement gaan uit van die oortuiging dat sy sukses gemeet gaan word aan 'n toename in deelnemers- en verbruikerstalle in sowel sport as kultuur.
Agbare Speaker, dames en here, in die loop van die afgelope finansiële jaar het die Departement van Kultuursake en Sport daarin geslaag om dít te lewer wat vir die boekjaar 2009/2010 beloof is.
Die Departement het, soos belowe, onder andere gedurende Jeugmaand 'n Kuns- en Kultuurweek in die Witzenberg Munisipaliteit aangebied, om sodoende aan die jeug van die omliggende dorpe die geleendheid te bied om meer van kuns te leer.
Erfenisdag is op 24 September gevier met die fokus op die inheemse erfenis van Vanrhynsdorp op die Weskus.
Ook soos belowe, is die Bobbejaanpunt Grot by Elandsbaai tot erfenisgebied verklaar.
Ons het ook daarin geslaag om drie sportsfasiliteite - in Gamka-Oos, Koekenaap en Eendekuil - te oorhandig aan gemeenskappe in die Wes-Kaap.
Vir die boekjaar 2010/2011 is daar aan die departement Kultuursake en Sport 'n totale begroting van R289 241 000 toegewys, vergeleke met R302 096 000, wat die aangepaste begroting vir 2009/2010 aandui. Dit beloop 'n daling van R12 855 000, wat 'n verdere las op die Departement plaas.
Die totale begroting van R289 241 000 verteenwoordig 'n afname van 4,26% vergeleke met verlede jaar se begroting. Wanneer ons egter die verbruikersprysindeks in ag neem, verteenwoordig dit 'n begrotingsvermindering van byna 9%.
Ons begroting gaan soos volg ingedeel word:
R36 254 000 gaan aan administrasie toegewys word
R540 156 000 gaan aan Kultuursake toegewys word
R1180 909 000 gaan and Biblioteek- en Argiefdienste toegewys word
R79 922 000 gaan vir Sport en Ontspanning gebruik word.
Ek moet egter daarop wys dat R90 170 000 van die totale bedrag voorwaardelike toelaebefondsing is wat van die Nasionale Regering ontvang is vir die verskaf van biblioteekdienste en massadeelname op die gebied van Sport en Ontspanning.
Noudat die makrostruktuur van die Departement uiteindelik goedgekeur is deur die Minister van die Staatsdiens en Administrasie, gaan drie nuwe senior bestuursdiens poste geadverteer en gevul word ten einde die bestuursvermoeë van hierdie Departement te verhoog. Die poste is vir: (i) 'n Hoof-direkteur: Sport, (ii) 'n Direkteur: Sport, en (iii) 'n Direkteur: Museums, Erfenishulpbron-bestuur en Geografiese Pleknamediens.
Die finalisering van die mikro-struktuur gaan ook voltooi word sodra die tweede fase van die moderniseringsproses binne die Departement geïmplementeer is.
Speaker, my Departement erken die uitdagings wat hierdie begroting op die Departement geplaas het, maar ons sal sorg dat voldoende dienslewering plaasvind en dit op die volgende wyses aanspreek:
Kuns en kultuur
Vanweë die gefragmenteerde aard van die kultuursektor is die Departement reeds etlike jare lank besig met 'n strategie waarvolgens kultuurforums dwarsdeur alle plaaslike munisipaliteite ingestel word om sodoende beter koördinasie en integrasie te verseker. Die Departement bly vasbeslote ten opsigte van die implementeer van programme wat gerig is op landelike gemeenskappe dwarsoor hierdie provinsie. Dit sluit vroue, die jeug en gestremdes in terwyl dit tegelykertyd die paar-verbinding van gemarginaliseerde gemeenskappe en groepe met gevestigde kuns- en kultuurorganisasies aanmoedig.
Ten einde voorts gelyke toegang aan almal te verseker, gaan die Departement aktiwiteite en programme van stapel laat loop wat geleenthede vir kunstenaars holisities sal ontwikkel en sal aanbied bo en behalwe die ontspanningswaarde wat die kunste ons bied. Met dit ten doel was dit vir die Departement nodig om sy netwerke en vennootskappe uit te brei en samewerking met tersiêre inrigtings, professionele organisasies en plaaslike munisipaliteite te versterk.
Deur middel van die Kultuurforum-strategie het die Departement, saam met plaaslike en distriks-munisipaliteite en gemeenskapstrukture, plaaslike en distriks-kultuurforums tot stand gebring. Hierdie Distirks-kultuurforums is ingestel in die Eden-, Sentraal-Karoo-, Overberg- asook Kaapse Wynland-distrikte. Hierdie proses is gerig op die fasiliteer van samewerking tussen al drie regeringsfere en gemeenskappe. By wyse van die programme wat vir die komende jaar beplan is, gaan die Departement mannekrag beskikbaar stel aan kultuurforums deur opleiding te verskaf op die gebied van die bedryf en bestuur van organisasies en ook van die voorberei van 20 kultuur-administrateurs om bystand te verleen met opleiding binne gemeenskappe.
Die Kunsteweek wat verlede jaar in die Witzenberg gehou is, het, soos reeds vermeld, bewys dat daar 'n oneindige hoeveelheid onontginde talent en geesdrif onder die jeug in landelike gebiede bestaan wat dikwels onopgelet bly. Die Departement se werk in landelike gebiede het die vlak van dansvaardigheid verhoog en is tans by wyse van die jeug van die Weskus se danssamesmeltingsgroep - 'n produk van die dansgenre-ontwikkelingsprogram van 2008 - betrokke by samewerking met die groep "Dance for All" hier in Kaapstad. Dit is die geleenthede wat die departementele programme aan die jeug bied om hule talente te toon en om blootgestel te word aan verskillende gehore.
Die Kunsteweek 2010, wat in September in die Overberg gehou gaan word, gaan 'n geleentheid bied vir die tentoonstel van die verskillende genres en asook vir die saambring van diverse gemeenskappe om met mekaar om te gaan en om sowel vaardighede as hulpbronne binne die gebied met mekaar te deel. Dit sal voorts ons pogings versterk om maatskaplike samehorigheid tot stand te bring en om sinvolle interaksie tussen gemeenskappe te vergemaklik.
Deur middel van die departementele handwerk-inisiatief gaan ons landelike vroue en mans van die R62 oplei wat hulle gaan toerus met vaardighede om produkte te ontwikkel wat ekonomiese geleenthede sou kon skep waardeur 'n inkomste gegenereer kon word en lewensgehalte verbeter kon word. Hierdie persone is hoofsaaklik seisoenale werkers en gevolglik sou die verkreë vaardighede aangewend kon word om by te dra tot ekonomiese onafhanklikheid.
In die loop van die jaar gaan die Departement poog om inisiatiewe vir die ontwikkeling van talent uit te brei deur middel van die mentorskapprogramme wat binne elke genre ingestel gaan word. 'n Raamwerk vir die identifiseer en koester van talent word tans ontwikkel wat ons pogings op die gebied van talentbepaling en -bevordering kan vergemaklik en kan inlig. Voorts gaan ons ons vennootskap met die Suidoosterfees versterk en uitbrei, waar drie gemeenskapskunstenaars reeds 'n geleentheid gebied is om vaardighede te bekom op die gebied van geleenthedebestuur asook van tegniese bekwaamheid, so nypend nodig veral in landelike gebiede. Dié drie persone is afkomstig uit die onderskeie streke Beaufort-Wes, Goedverwacht en Clanwilliam.
Die 2009 Toekennings vir Kunste, Kultuur, Erfenis, Museums, Taal, Biblioteke en Argiewe getuig van die verbindheid van die Departement daartoe om die werk wat binne gemeenskappe deur gemeenskappe verrig is, te erken en te beloon.
Deur middel van die jaarlikse befondsingsiklus gaan befondsing beskikbaar gemaak word aan die nieregeringsorganisasie-sektor wat bystand gaan verleen aan die uitbrei en aanvul van begrip en kennis van die kunste terwyl sowel gehore as 'n waardering vir die gemarginaliseerde en inheemse kunsvorms dwarsoor die Provinsie ontwikkel word. Die uitruil van ondervinding, vaardighede en hulpbronne tussen organisasies sal van kernbelang wees en is 'n kritieke element van hierdie befondsingsprogram aangesien die Departement en begunstigdes KNAP moet werk ten einde te verseker dat ons die maksimum voordeel geniet. Die Departement is bewus van die ongelykhede wat bestaan ten opsigte van geleenthede in die landelike teenoor die stedelike gebiede, en gevolglik gaan hy die vernouing van hierdie gaping versnel deur sinvolle programme van stapel te stuur wat aanleiding sou kon gee tot ekonomiese lewensvatbaarheid en geleenthede buite die omvang van ons verantwoordelikheid.
Taal
Die Departement is, saam met sy vennoot die Wes-Kaapse Taalkomitee, verantwoordelik vir toesighouding oor die implementering van die Provinsiale Taalbeleid asook vir die voorsiening van taaldienste (vertaling, redigering en tolking) aan alle departemente binne die Provinsiale Regering van die Wes-Kaap deur te sorg vir gelyke status van die drie amptelike tale van die Wes-Kaap. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat dit nodig is om 'n aktiewe proses vir die bevordering van vorheen gemarginaliseerde inheemse tale - isiXhosa as 'n gemarginaliseerde amptelike taal en die Khoi-, Nama- en San-tale, asook Suid-Afrikaanse Gebaretaal/doofheid-bewustheid - gehandhaaf moet word deur middel van bewusmakingsprogramme dwarsoor die Provinsie.
In die loop van die afgelope jaar was dit vir my Departement moontlik om 100 (eenhonderd) mense in Afrlkaans en isiXhosa op te lei. Voorts het die Departement die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) se Veeltaligheidstoekenning vir sy Nama-projek ontvang van die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad vir doeltreffende dienslewering deur middel van 'n veldtog in die openbare sektor wat daarna streef om veeltaligheid te bevorder.
Die prioriteitsprogram vir die Departement ten opsigte van Taaldiens is die voortgesette implementering van die voorskrifte van die Wes-Kaapse Taalbeleid in sowel Provinsiale departemente as by inrigtings. Dit sal bydra tot maatskaplike samehorigheid en tot ons uiteindelike doelwit: om te sorg dat inwoners van die Wes-Kaap toegang het tot dienste in die amptelike taal van hul keuse en dat al drie amptelike tale gelyke status binne die Wes-Kaapse Provinsiale Regering geniet. Dit is die doelstelling van my Departement om besoek af te lê by alle provinsiale departemente ten einde leiding te gee aan die senior bestuurslede oor die praktiese implikasies van die implementering van die Provinsiale Taalbeleid. Ek het voorts sowel my kollegas in die Provinsiale Kabinet as die hoofde van departemente aangespoor om ook die onderneming te onderteken wat ek en die Premier in Februarie 2010 onderteken het, waardeur ons ons departemente verbind het tot veeltaligheid. Bewusmakingsprojekte en -werksbyeenkomste gaan ook dwarsoor die Provinsie Wes-Kaap gehou word om bewustheid van al die amptelike tale, veral isiXhosa, en ook van die Nama-taal en van Suid-Afrikaanse Gebaretaal te verhoog.
Erfenis
Die Wes-Kaap, en inderdaad die hele Suid-Afrika, beskik oor 'n ryk natuur- en kultuur-erfenis. Erfenis Wes-Kaap, wat verantwoordelik is vir die bevordering en bewaring van ons erfenishulpbronne in die Provinsie Wes-Kaap, het drie argeologiese erfenisgebiede langs die Weskus tot provinsiale erfenisgebiede verklaar. 'n Vierde gebied, die Gemeenskapshuis-gebou hier in Kaapstad, is op 19 Februarie 2010 in die Provinsiale Koerant gepubliseer.
In die komende boekjaar gaan Erfenis Wes-Kaap voort met sy pogings om gemeenskappe binne die Provinsie te betrek by die identifiseer en beskerming van sy ryk en kultureel diverse erfenis. Die Provinsie Wes-Kaap spog met goedbewaarde fossiele waaruit gemeenskappe ekonomies sou kon baat en wat toerisme sou kon aanvul. Daar word dus in die vooruitsig gestel dat 'n paleotoerisme raamwerk ontwikkel moet word om ons benadering tot die bestuur van paleontologiese erfenis-toerisme.
Die Departement en sy openbare entiteite is daartoe verbind om goeie regeringsbeleid dwarsoor al drie sfere, veral op plaaslike regeringsvlak, toe te pas. Verbete pogings word tans aangewend om te sorg dat plaaslike beplanningsowerhede die vermoeë gegee word om erfenishulpbronne wat onder hul regsgebied resorteer, te bestuur. In hierdie verband word proaktiewe maatreëls gefinaliseer ten einde magte aan bevoegde plaaslike owerhede vir die bestuur en bewaar van die plaaslike erfenis te delegeer.
Die huidige dienstermyn van die raad van Erfenis Wes-Kaap kom ook tot 'n einde en die prosesse vir die benoeming van persone om in die nuwe raad te dien, met 1 Augustus as aanvangsdatum, is reeds van stapel gestuur.
Vroeër vanjaar het die Departement, saam met die departement van Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, 'n studie onderneem waarvolgens die uitwerking van die erfenissektor op die ekonomie van die Wes-Kaap vasgestel kon word. Die eerste bevindings dui daarop dat die kultuurerfenis-sektor meer as 716 persone in diens het en bykans R177-mijoen gegenereer het tydens die boekjaar 2008/2009. Luidens statistiek het meer as 1 315 010 mense die nasionale, provinsiale en kultuur-historiese inrigtings in hierdie tydperk besoek en R38,9-miljoen bestee. Hierdie syfers sluit nie die bydraes uit die natuur-erfenissektor in nie en neem ook nie die vermenigvuldigings-uitwerking van die waarde en werksgeleenthede in ag nie wat geskep word deur die rehabiliteer en restoureer van erfenisgebiede, na raming in 2008/09 net minder as R1-miljard werd.
Binne die volgende paar maande sal ek die Wes-Kaapse Geografiese Namekomitee aangestel het. Hierdie komitee gaan bystand verleen aan gemeenskappe, plaaslike owerhede en die Suid-Afrikaanse Geografiese Nameraad ten opsigte van die nasionale Minister van Kuns en Kultuur met betrekking tot die standaardisering, en, waar nodig, die verandering van geografiese name.
Tien persent (10%) van Afrika se museums is in die Wes-Kaap geleë. Dit is daarom uiters belangrik dat die Wes-Kaap voortgaan om 'n doeltreffende en 'n leidende rol te speel in die bestuur van sy erfenisinstellings. Die Departement help geaffilieerde museums om die artefakte en die versamelings wat hulle huisves, te beskerm en te bewaar. Aanstaande jaar sal die Museumdienste klem lê daarop om te verseker dat die bestaande versameling- en bewaringbestuursplanne geïmplementeer of, waar nodig, bygewerk word in ooreenstemming met aanvaarde professionele standaarde. Dit sal insluit besoeke deur spesialiste en opleidingsingrype wat spesifiek ontwerp is om versamelingsbestuur te verbeter.
Daar sal spesifiek klem gelê word op die herontwikkeling van twee provinsiale museums se uitstallings, naamlik die Worcester Museum en die Bartolomeu Dias Museum in Mosselbaai. Belangrike navorsingsprojekte sal in hierdie verband aangepak word en die bevindinge sal 'n impak hê op nuwe uitstallings wat ontwikkel moet word. As deel van ons kuns-, kultuur- en erfenisnalatenskap van 2010, sal 'n nuwe permanente kunsuitstalling in die Sawyer Saal by die George Museum op Internasionale Museumdag, 18 Mei 2010, geopen word. Gedurende die 2010 FIFA Wêreldbeker, sal die Kaapse Mediese Museum wat langs die nuwe Kaapstad Stadion geleë is, 'n uitstalling oor sportbeserings in vennootskap met die Sportwetenskapinstituut aanbied.
Die Departement het 'n nuwe konsepmuseumbeleid as deel van die bespoediging van die transformasie van die erfenis-sektorlandskap ontwikkel. Hierdie konsepbeleid sal met verskeie belanghebbendes en rolspelers bespreek word ten einde die nuwe beleid te finaliseer en om nuwe museumwetgewing op te stel wat gemeenskappe en munisipaliteite sal bemagtig en hulle in staat sal stel om hul museums en erfenissentra op te rig en te bestuur, en om in vennootskap met ander belanghebbendes en rolspelers tot erfenistoerisme by te dra.
Die Departement sal 'n aantal permanente uitstallings by geaffilieerde museums voltooi. Dit sluit die Chris Barnard Retrospektiewe Uitstalling en die Piktoriale Beaufort-Wes, beide geleë by die Beaufort-Wes Museum, in. Bykomend hiertoe sal die Museumdienste ook 'n reisende uitstalling oor nasionale simbole op 27 April 2010 as deel van sy 2010-nalatenskapprojek bekendstel. Later vanjaar sal 'n reisende uitstalling oor medisinale plante ontwikkel word. Hierdie uitstalling sal ondersteun word deur omvattende opvoedkundige programme aangebied aan skoolgroepe wat by geaffilieerde museums besoek aflê, veral by museums soos die Montagu Museum wat oor 'n uitgebreide kruietuin beskik, sowel as die Kaapse Mediese Museum.
As 'n leidende departement wat maatskaplike samehorigheid betref, sal die Museumdienste en die provinsiale museums 'n aantal geleenthede op openbare vakansiedae en ander herdenkings, spesiale en geskiedkundige dae, insluitend Vryheidsdagvieringe, Internasionale Museumdag en Erfenisdag, aanbied.
Biblioteek- en Argiefdienste
Die Wes-Kaapse Argiewe is die oudste Argiefdienste in Suid-Afrika en is die bewaarder van Suid-Afrika se vroegste geskrewe rekords. Om te verseker dat amptelike rekords doeltreffend en doelmatig deur alle staatsorgane bestuur word, sal die Rekordsbestuurkomponent voortgaan om die implementering van goedgekeurde stelsels te monitor en te evalueer.
Die Argiefdienste sal steeds 'n belangrike rol speel in die elektroniese liasseringsprojek wat deel uitmaak van die modernisering wat hierdie provinsie van stapel gestuur het. 'n Hoogtepunt van hierdie jaar sal die jaarlikse Argieweweek wees. Hierdie gebeurtenis wat in Mei 2010 sal plaasvind, is daarop gemik om bewustheid te skep rondom die dienste wat deur Argiewe gelewer word. Verskeie programme soos die Genealogiese Navorsing sal tydens hierdie week by die Argiewe aangebied word.
Die Wes-Kaapse Biblioteekdiens, wat biblioteekdienste in vennootskap met munisipaliteite by 329 dienspunte regoor die Wes-Kaap Provinsie verskaf, sal voortgaan om toepaslike biblioteekmateriaal aan alle mense van die Wes-Kaap beskikbaar te stel. 'n Hoogtepunt vanjaar is die langverwagte oorskakeling na 'n nuwe gerekenariseerde biblioteekstelsel. Die verouderde dos-gebaseerde PALSstelsel sal deur 'n nuwe web-gebaseerde Brocade-stelsel vervang word. Die omvang van hierdie projek is enorm, aangesien meer as 6 miljoen items en alle huidige prosesse en prosedures na die nuwe stelsel toe omgeskakel sal moet word. Ons sal in Januarie 2010 regstreeks verbind wees.
Die landelike IKT- (Inligtings- en Kommunikasietegnologie) konnektiwiteitsprojek sal sy derde fase tydens 2010/2011 betree. Hierdie projek, wat gratis toegang tot die Internet en rekenaars aan biblioteekgebruikers by plattelandse biblioteke bied en wat uit voorwaardelike toelaes befonds word, is tot dusver baie suksesvol.
Biblioteekgebruik het by sentra wat regstreeks verbind is, toegeneem en hul gewildheid word bewys deur die aantal lede wat na openbare biblioteke toe stroom om van hierdie fasiliteit gebruik te maak. Ons sal die IKT na 'n verdere 20 terreine toe verhoog, wat die totale aantal aktiewe terreine na 60 toe sal vermeerder.
Speaker, presies elf Vrydae van vandag af, sal ons die aanvang van die grootste sportgebeurtenis wat hierdie land nog ooit aangebied het, aanskou. Die 2010 FIFA Wêreldbeker sal die aandag van die wêreld op Suid-Afrika toespits, en van meer belang op ons provinsie. My Departement het die mandaat gekry om te verseker dat 'n nalatenskap wat verder as die eenvoudige fisiese gaan, agtergelaat word.
Die Departement het die eerste fase van die Philippi Stadion-opgraderings volgens FIFA-standaarde voltooi. Die nalatenskap van hierdie projek is dat die Philippi- en Kosovo-gemeenskappe nou oor 'n sportfasiliteit van internasionale standaarde op hul drumpel beskik. Die projek pas goed in by die breër programme om die gebied as 'n geheel te opgradeer. Die volhoubaarheid van die projek sal afhang van die suksesvolle aanstelling van 'n huurder vir die gronde en die vermoë van daardie huurder om wedstryde en gebeurtenisse te organiseer wat opwinding en eienaarskap by die plaaslike gemeenskappe teweeg sal bring.
Knysna is die basiskamp vir twee van die 2010 FIFA Wêreldbekerspanne. Die Loeriepark-sportgronde is om hierdie rede tot FIFA-standaarde opgegradeer om hulle te akkommodeer. Die instandhouding van hierdie gronde sal deur die plaaslike Munisipaliteit waargeneem word en die voordele daaraan verbonde vir die plaaslike bevolking is geweldig groot.
Die internasionale vennootkapsooreenkoms met Nederland, naamlik die "Sterre in hul Oë" Projek het tot dusver 120 hoogsopgeleide afrigters opgelewer wat in die gemeenskappe werksaam is om te verseker dat die vaardigheid van voetbal sommige van die mees afgeleë areas in die Provinsie bereik. Die program sal voortgaan met die ondertekening van nuwe ooreenkomste wat verder as die 2010 FIFA Wêreldbeker sal strek.
n Wye verskeidenheid sokkerontwikkelingsprogramme, insluitend opleiding, kapasiteitsbou, straat- en speelgrondsokker asook programme wat deur ons Provinsiale Sokker Ambassadeurs gelei word, is in werking gestel in die aanloop tot die 2010 FIFA Wêreldbeker. Al die bogenoemde, met die uitsondering van die Ambassadeursprogram, sal uitbrei en voortgaan nadat die laaste fluitjie by die Wêredlbeker geblaas het en sal deur die Departement volhou word.
Speaker, die Departement sal vyf provinsiaalbygevoegde openbare kykersgebiede gedurende die duur van die Wêreldbeker tot stand bring. Hierdie openbare kykersgebiede, wat geleë is in elkeen van die distrikte buite Kaapstad, sal die aan mense van die Wes-Kaap die geleentheid bied om die Wêreldbeker te ondervind. Alle ekonomiese geleenthede wat met die openbare kykersgebiede geassosieer word, sal direk met die plaaslike bevolking geskakel word.
Bykomend hiertoe het ons ses aftelklokke aangekoop - 1 per distrik en 1 vir Kaapstad SSK. Hierdie hoë-resolusie opelugskerms sal as 'n nalatenskap vir elk van die Distriksmunisipaliteite agtergelaat word om te gebruik vir advertensies, kennisgewings, vertonings van gebeurtenisse, verkeersbeheer, ens. Opleiding om die masjinerie in stand te hou word verskaf en hierdie hulpbron sal aan die Munisipaliteite beskikbaar wees om na goeddunke te gebruik.
Die Departement het ook die Cape Craft and Design Institute ondersteun - 'n Provinsiaalondersteunde handwerkopleidings- en netwerk-organisasie - om 'n netwerk van handwerkers van regoor die Provinsie daartoe in staat te stel om produkte te produseer wat spesifiek ontwerp is om aan sokkertoeriste en -bewonderaars verkoop te word.
Binne die volgende maand sal die Departement, in samewerking met die WKOD en Die Departement van die Premier (DoDP) die "My 2010 Skoolavontuurprogram" implementeer. Hierdie projek, wat ná skoolure en op Saterdagoggende uitgevoer sal word, sluit beide 'n sokkertoernooi en 'n kultuurkompetisie in. Die pryse is ontwerp om aan skoolleerders die geleentheid te bied om "die Wêreldbeker aan te raak" deur middel van 'n sokkerkompetisie en om terselfdertyd oor verskeie deelnemende lande, hul kultuur, tradisies, ekonomie, geskiedenis, en dies meer te leer.
Die Departement het 99 vrywilligers vir die Konfederasiebeker opgelei en sal 'n verdere 215 vir die 2010 FIFA Wêreldbeker oplei. Ons glo dit is 'n belangrike program aangesien 'n aantal vrywilligers wat vir die Konfederasiebeker opgelei was, net ná die toernooi vaste werk gekry het. Dit is die ontwikkelingsnalatenskap wat ons tussenbeidetreding sal hê.
In die 2009/2010 boekjaar is die Nasionale Simbole Program, wat daarop gemik is om maatskaplike samehorigheid te skep, in ons skole regoor die provinsie geïmplementeer. Die program het daarin geslaag om aan beide leerders en opvoeders 'n nuwe begrip te gee en 'n werklike trots op ons Nasionale simbole aan te kweek. Die programme sal verder uitgebrei word met die bekendstelling van 'n Nasionale Simbole Reisende Uitstalling.
Speaker, aangesien die 2010 FIFA Wêreldbeker sekerlik stukrag gegee het aan die projekte waarop ek gesinspeel het, sal hierdie projekte ná 2010 voortgaan, omdat hulle só ontwerp is dat hulle naatloos in die werksprogramme van die Departement opgeneem kan word.
In die Departement van Kultuursake en Sport het ons die volgende Engelse stelling aangeneem, en laat my toe om dit aan te haal: "A child in court is a child out of court." (Vrye Afrikaanse vertaling: 'n Kind wat sport beoefen, is 'n kind wat nie in die hof beland nie.) Ons glo dat ons pogings in sport en ontspanning 'n ware teenvoeter is vir die maatskaplike kwessies wat ons gemeenskappe teister. Skolesport speel 'n kritieke rol om soveel as moontlik jongmense toegang tot sportgeleenthede te bied.
Gedurende 2010/2011 sal ons twee massadeelname-sentra of MOD-sentra in elkeen van die 49 Wes-Kaapse Onderwysdepartement en Skolesport Gebiede stig, wat op 98 Skolesportgebaseerde massadeelname sentra in totaal te staan sal kom. By elkeen van hierdie 98 massadeelname sentra sal twee sportkoördineerders aangestel word.
Die Skolesportgebaseerde Massadeelname-Sentra sal ondersteun word deur agt skolesportgebaseerde hoëprestasiesentra, wat in elk van die agt Wes-Kaapse Onderwysdepartement- en Skolesportdistrikte gestig gaan word. Een sentrumkoördineerder en ongeveer 10 kode-afrigters sal in elkeen van hierdie sentra geplaas word.
Die hoofdoelwit van hierdie massadeelname en hoë prestasiesentra sal wees:
Om toegang en geleenthede in verband met sport- en ontspanningsaktiwiteite ná skoolure vir alle skoolgaande kinders te skep; en
Om die vaardighede en kapasiteit van potensiële atlete op 'n baie jong ouderdom te ontwikkel;
Om hierdie geleenthede te gebruik om maatskaplike bewustheidsboodskappe te onderstreep (bv. anti-misdaad, antidwelms en MIV/VIGS-boodskap).
Die funksioneringstye van hierdie skolesportsentra sal van só 'n aard wees dat dag-tot-dag skoolopvoeding nie ontwrig sal word nie. Ons wil verseker dat ons kinders ná skool besig gehou word en daarom voorsien ons dat hierdie programme na-ure sal plaasvind.
Die Klubontwikkelingsprogramme bly steeds 'n ontwikkelende proses en met die samewerking van ons sleutelbelanghebbendes, naamlik die federasies, hoop ons om die voetspoor van klubontwikkeling in meer gemeenskappe te verhoog. In die lewering van volgehoue ondersteuning aan klubs, hoop ons dat dit voortgesette volhoubaarheid sal aanmoedig en nie die klubs te afhanklik sal maak van die befondsingshulpbronne wat hulle van die departement deur middel van die Sport en Ontspanning Suid-Afrika (SRSA) se voorwaardelike toelaeprogram ontvang nie.
Speaker, tydens die 2010/2011 boekjaar sal vier munisipaliteite finansiële ondersteuning vir die opgradering van die agt sportfasiliteite en die bou van een fasiliteit ontvang.
Die Riaan Loots Veldtog, wat op die bevegting van geweld in sport klemlê, sal gedurende die nuwe boekjaar op rugby, sokker en hokkie fokus. Doelgerigte bewustheidsprogramme en tussenbeidetreding sal ontwerp word om die probleem-areas binne hierdie kodes te hanteer. Die Suidwestelike Distrikte (SWD) Klubkampioenskappe is as een van die gebiede vir spesiale tussenbeidetreding geïdentifiseer en die Departement sal 'n bewustheidsprogram loods om sommige van die uitdagings van die verlede wat by hierdie kampioenskappe ondervind is, op te los.
Die Plaaswerkerssportprogram sal verder tydens die 2010/2011 boekjaar ondersteun word met die opgradering van 'n sportfasiliteit by Buffelsdrift in Oudtshoorn. Bykomend hiertoe sal ons ook verskeie lewensvaardigheidskursusse en 'n basiese kursus in sportadministrasie aanbied om plaaswerkers toe te rus om hul sportstrukture meer doeltreffend te bestuur. In die 2009/10 boekjaar het die Departement ook sportklere en -toerusting vir hierdie program verskaf. Ons verhouding met die Wes-Kaapse Departement van Landbou sal ook tot die ontwikkeling van nog 'n sportfasiliteit by Aan De Doorns aanleiding gee.
Die hoogtepunt van die plaaswerkers se sportkalender, die jaarlikse Plaaswerkerssportdag, sal op 1 Mei 2010 in Worcester gehou word. Die Siyagdladla Massa Deelname Program het aan baie van ons jongmense toegang tot ontspanningsaktiwiteite soos inheemse speletjies, sowel as straatsokker, mini-krieket, mini-netbal, en mini-vlugbal gebied.
Die Massadeelnameprogram word aangevoor deur die 45 versamelpunte wat regoor die Provinsie versprei word. Die koördineerders wat by hierdie versamelpunte gestasioneer is, sal voortgaan om te verseker dat massadeelname, talent-identifisering en ontwikkeling binne hul gespesifiseerde versamelpunte plaasvind. Die hoogtepunte van die program sal die Winterspele en Inheemse Speletjies gedurende die Junie/Julievakansie wees, sowel as die Somerspele wat gedurende die vakansie in Desember gaan plaasvind.
Ons verhouding met die Wes-Kaapse Sportakademie sal verder in hierdie jaar verstewig word met die stigting van twee satelliet sportakademies: Een sal in Oudtshoorn en die ander een in Saldanhabaai geopen word.
Ten slotte, Mnr die Speaker, sport en kultuur dien sonder twyfel as 'n fondament wat kinders, moeders en vaders, gemeenskappe en die samelewing vanuit diverse agtergronde rondom 'n gemene belangstelling saamsnoer en byeenbring.
Dit verseker dat hulle 'n sin van gekoesterdheid, van samesyn, het. Dit beskik oor die potensiaal om die vervreemde jeug weer na die hoofstroomsamelewing terug te bring en om hulle te laat voel dat hulle aanvaar word. As 'n samelewing is ons al deur 16 jaar van demokrasie, maar kulturele versoening is steeds iets wat ontbreek. Sonder om aan ander kulture, gelowe en gebruike blootgestel te word en sonder om 'n wedersydse respek vir hul waardes te ontwikkel, sal ons as 'n samelewing nooit werklik versoen kan word nie.
Speaker, ons moet verseker dat, alhoewel ons in wese verskillend is, ons as 'n nasie bymekaarstaan in ons gedeelde menslikheid en inderdaad 'n maatskaplik samehorige Wes-Kaap moet bou.
